top of page

Die kombinasie van essensiële olies – waar begin ek?

Carina Falck

Dit behels iets wat alle vroue het - logika en intuïsie.
Dit behels iets wat alle vroue het - logika en intuïsie.

Net soos ons oë daarvan hou om na wisselende landskappe te kyk, of nooit moeg word om na die voortdurend veranderende golwe te kyk nie, verkies ons reukstelsel ingewikkelde reuke bo eenvoudiges. Dit kan vergelyk word met die verskil tussen 'n skaapboud met net sout, of een wat 'n bietjie peper, naeltjies en koljander by het.

'n Komplekse kombinasie van reuke en smake stimuleer die sintuie - meer as wat 'n enkele reuk of smaak doen - tot 'n menigte emosies en 'n diep bevredigende ervaring.

 

Raak bewus van moontlikhede

1. As jy nog huiwerig is om essensiële olies in 'n diffuser of masseermengsel te kombineer, begin deur 'n paar eenvoudige beginsels in gedagte te hou.

2. Raak bewus van die dele van die plant wat gebruik word om die essensiële olies te verkry – blare en takkies, blomme, speserye, skil en hars.  Begin om jou voorkeure vas te stel.

3. Wanneer blare gebruik word om die olie te onttrek, word respiratoriese toestande dikwels bevoordeel, en alle sitrusskil help om die gemoed positief te beïnvloed. Blomme behandel dikwels emosionele wanbalanse. Dit is 'n baie elementêre riglyn, maar laat jou dink en skep 'n bietjie bewustheid.

4. Dit sal ook nuttig wees om te besluit of jy 'n siekte, of 'n emosie behandel. Wanneer jy 'n siekte behandel, kan dit belangriker wees om die werk gedoen te kry, as om té bekommerd te wees oor die geur. As die behandeling egter goed werk, sal daar steeds 'n positiewe skakel tussen die reuk en beter voel geskep word.

5. Voorbeeld: 

As jy 'n brongitisbehandeling meng, kan jy Niaouli, Tiemielinalool en Atlas Cedarwood in 'n diffuser gebruik. Dit sal 'n baie medisinale reuk hê, maar steeds vars en aangenaam vir die meeste mense wees.

6. As jy 'n emosie soos lustelose depressie behandel, sal jy Pomelo, Roosmaryn en Frankincense gebruik, wat 'n baie aangename geur skep terwyl dit die depressie verlig.

7. 'n Belangrike aromaterapeutiese beginsel is dat die kliënt altyd 'n positiewe reukkonneksie met die behandeling moet hê. Ons wil nie ‘n reaksie hê waar ons hoor “Dit was aaklig maar dit het gewerk” nie!

8. Aromaterapie word gebruik om die sielkundige, anatomiese en fisiologiese gesondheid van 'n individu te balanseer, te ontspan, te herstel of te verbeter en botsende geure sal nie help nie!

9. Indien jy ‘n spesifieke toestand wil behandel, is dit beter om dit met 'n aromaterapeut te bespreek om die beste behandeling uit te werk. Jy kan 'n afspraak hier maak.

 

Balanseer die mengsel

Dit is wetenskap sowel as kuns.

Om te weet watter olie 'n aanhoudende hoes sal help verlig, vereis navorsing oor die chemiese samestelling van die olie. Om die mengsel tot ‘n aangename reuk te balanseer, verg bietjie oefening en heelwat intuïsie.

Net soos jy in die winter met lemoenskil en gemmer kook, sal 'n mengsel van soet lemoen-, gemmer- en naeltjie-olie jou huis 'n warm reuk gee.

Romanties gesproke is blomme altyd 'n belowende idee. Een druppel elk roos, ilang ilang en jasmyn met 'n paar druppels sederhout of sipres, sal vreugde en 'n gevoel van misterie skep.

 

'n Paar mengsels om te probeer

Algemene stres

Soet Lemoen (Sweet Orange) 10 druppels

Rose Geranium 15 druppels

Laventel 5 druppels

Meng 5 druppels op 10ml draerolie en gebruik as masseerolie of gebruik 3-5 druppels in ‘n diffuser.

 

Warm gloede - menopouse

Peperment 2 druppels

Sipres 2 druppels

Salie (Clary sage) 10 druppels

Spearmint 4 druppels

Geranium 6 druppels

Suurlemoen 6 druppels

Meng 5 druppels op 10ml draerolie en gebruik as masseerolie of gebruik 3-5 druppels in 'n diffuser.

 

Al hierdie olies is beskikbaar by Mirre & Kaneel.

Vriendelike groete

Carina Falck

ความคิดเห็น


bottom of page