top of page
Carina Falck

Moeite en misterie -die pad van essensiële olie.

Updated: 5 days ago




Essensiële olie word beskryf as ‘n vlugtige ('volatile') materiaal wat d.m.v.’n fisiese proses uit geurige plante van ‘n enkele botaniese en spesiebron onttrek word.  

Die olie word verder beskryf as ‘n komponent wat deur metaboliese prosesse in die plant gevorm word.

Die funksie van die olies is onder andere om die plant te help om insekte en ander plae weg te hou, en bestuiwende insekte en bye aan te trek. Die gom waarvan mirre-olie gemaak word, beskerm die plant teen wonde aan die bas. Die olies gee ook aan plante hulle kenmerkende geur.

 

Waar die olies in plant voorkom

Olies kom in blomme, blare, wortels, takkies, gom, skil, boombas, hout, en meer voor. Bessies, peper en sade is ook bronne van  olies.

 

Voorbeelde: 

Blomme: jasmyn, lemoenblomme, roos

Blare: sitroengras, petitgrain, palmarosa, patchouli

Boombas: kaneel

Hout: seder, sandelhout, rooshout

Wortels: gemmer, vetiver, nardus

Die hele plant: malva, laventel, roosmaryn

Skil: lemoen, suurlemoen, bergamot, mandaryn

Gom: frankincense, mirre, copaiba, rockrose

Bessies: jenewerbessies

Sade: peper

Blomknoppies: naeltjies (clove bud oil)

 

Hoe die olie onttrek word

Die prosesse is kompleks, en elke proses het onderafdelings, maar opsommend kan gesê word  dat die essensiële olie deur stoomdistillering en parsprosesse onttrek word.


Hoeveel plantmateriaal word benodig?

Mense dink soms dat essensiële olies duur is, maar die volgende syfers help ons om vier dinge te verstaan:

  • Hoe gekonsentreerd die olie is

  • Waar die prys vandaan kom

  • Hoekom so min nodig is 

  • Hoekom die meeste aromaterapeute aanbeveel dat jy dit nie inneem nie.

 

Voorbeelde:

8000 jasmynblomme = 1g olie

500kg lemoenbloeisels = 500g neroli-olie

5-7 ton melissablare = 500g olie

3000 suurlemoene  = 1kg olie

3000 – 5000 kg roosblare =  1kg olie

 

As jy byvoeg dat ‘n baie groot deel van die plantmateriaal wêreldwyd met die hand versamel word, kry jy nog meer berip vir hoé besonders die druppeltjie in jou diffuser is.

 

Effek op die mens

Essensiële olie is bekend vir die  diepgaande effek op mense – fisies en emosioneel. Dit is veral die emosionele effek op mense wat veroorsaak dat die olies ‘n misterieuse komponent het, en maar net nie in ‘n boksie wil pas nie.  Vir my is een van die groot wonders dat daar iewers in ‘n plant iets ‘woon’ wat my depressie kan verlig, my kan laat slaap, pyn kan wegneem, trauma kan verminder ‘n rouproses kan versag, en positiwiteit kan bevorder.

 

Moeite + misterie = merkwaardig....

Onthou om vanaand met verwondering ‘n paar druppels olie in jou diffuser te gooi. Mag jy altyd deur die moeite aangegryp word, die misterie ervaar en merkwaardige resultate beleef.  

 

Hartlike groete

Carina Falck

 

Kontak: Carina Falck 060 526 1422

Vrywaring

Die gebruik van essensiële olies moet verantwoordelik gedoen word en vervang nie enige mediese behandeling nie. Dit word op eie risiko gebruik.

Bron:

Battaglia, S.

The complete guide to aromatherapy, 2nd edition.

The International Centre of Holistic Aromatherapy, Brisbane, Australia, 2003

P27-35.

 

 

 

 


0 views0 comments

Recent Posts

See All

Comentários


bottom of page