Swartpeper Essensiële Olie
- Carina Falck
- Sep 26
- 3 min read
Swartpeper (Piper nigrum)

‘Dit is peperduur’ - hierdie uitdrukking laat ‘n mense tog altyd oor peper wonder. Swartpeper essensiële olie is een van my gunsteling olies omdat dit so veelsydig is, en net so onontbeerlik in jou olieversameling is, as peper op die etenstafel.
Hier is ‘n paar boeiende brokkies inligting.
Groeiwyse
Peper groei aan ranke van tot 5 meter hoog. Inheems aan Indië en Indonesië, word die gewas al langer as 2000 jaar in dié lande verbou. Theophrastus verwys in die 4de eeu v.C reeds na peper.
Die vruggies groei in trossies, word nie almal gelyk ryp nie, en hang in pragtige kleure aan aan die rank.
Soorte peperkorrels.
Peper word met die hand geoes en sorteer.
Wit, swart en groen peperkorrels kom van dieselfde plant, terwyl pienk peperkorrels van ‘n ander plantspesie afkomstig is.
Om witpeper te maak, word die ryp vruggies geweek, die doppies verwyder en dan gedroog en fyn gemaak om witpeper te produseer.
Swartpeper smaak skerper, en word verkry deur die vruggies wat amper ryp is in water te week en dan in die son te droog.
Groen peperkorrels word verkry van die vruggies wat nog glad nie ryp is nie, en word dikwels ingelê.
Pienk ‘peperkorrels’ is die gedroogde bessies van Peruviaanse of Brasiliaanse peperboom – familie van kasjoe-neute en nie ware peperkorels nie.
Swartpeper essensiële olie.
Dié olie word verkry deur die stoomdistillasie van gedroogde, amper ryp, gebreekte korrels van die Piper nigrum plant. 20kg peperkorrels lewer omtrent 1kg essensiële olie.
Geur
Die olie het ‘n verrassende geur in ‘n diffuser - vars, warm, effens houtagtig en soeterig.
Samestelling van die olie.
Die essensiële olie is ryk aan monoterpene koolwaterstowwe en sesquiterpene koolwaterstowwe.
Monoterpene koolwaterstowwe is bekend vir hulle pynstillende en anti-septiese eienskappe, en sesquiterpene koolwaterstowwe vir ant-virale eienskappe.
Terapeutiese gebruike vir Swartpeperolie.
Pynstillend, anti-septies, krampwerend, verminder opgeblasendheid, verbeter spysvertering, verbeter bloedsomloop, en as algemene tonikum.
Emosionele profiel - wie vind emosioneel baat by die olie?
Swartpeper is vir dié wat hulleself as amper te streng beleef. Hulle is dikwels in gesagsposisies, en kan hulle kant van ’n saak baie oortuigend stel.
Hulle neem dikwels verantwoordelikheid vir die hele familie.
Diegene wat groot geword het waar dit moeilik was om liefde te gee of te ontvang, en nie maklik emosies uitdruk nie, baat ook by Swartpeper. As jou lewe jou oud voor jou tyd laat voel, trek die Swartpeper nader.
Hoe kan ek die olie gebruik?
Vir gebalanseerde verwagtinge van jouself en ander:
· 2 druppels Swartpeper: bring warmte, moed en buigsaamheid; versag rigiditeit.
· 4 druppels Bergamot – positiwiteit, selfaanvaarding en verminder kritiese neigings.
· 3 druppels Suurlemoen – verminder emosionele uitputting, bring ‘n ligter aanslag tot die lewe en verminder die behoefte aan perfeksionisme.
Gebruik in ‘n diffuser of verdriedubbel en meng al 21 druppels op 30ml draerolie.
Die frustrasie meegebring deur hoë standaarde aan jouself en ander te stel, kan onderdrukte woede en irritasie tot gevolg hê. Die hoë vlakke van kortisol en adrenalien wat daarmee verbind word, kan ook tot gewrigspyn ly. (inflammasie en styfheid in spiere en litte).
Pynverligting en bloedsomloop
· 4 druppels Swartpeper - verwarmend, stimuleer sirkulasie, verlig styfheid.
· 5 druppels German Chamomile - anti-inflammatories, kalmeer senuwees.
· 3 druppels Laventel – kalmerend en anti-inflammatories.
Meng en gebruik in ‘n diffuser, of verdriedubbel en gebruik op 50ml masseer-olie
’n Veelsydige olie
Swartpeper balanseer ander essensiële oliemengsels. Dié olie is dikwels ‘net daardie ietsie’ wat ontbreek. Die sagte houtagtige geur laat ander kombinasies tot hulle reg kom, net soos peper in kos ’n tikkie ekstra geur gee.
’n Verrassende kombinasie is Roos en Swartpeper. Probeer dit gerus saam met Jasmyn vir ‘n opwindende amper sensuele geur.
Lekker meng tot volgende keer!
Hartlike groete
Carina Falck
Bronne:
Battaglia, S.
The complete guide to aromatherapy, 2 nd edition.
The International Centre of Holistic Aromatherapy, Brisbane, Australia, 2003
P171-172
Kontak: Carina Falck 060 526 1422
Vrywaring
Essensiële olies moet verantwoordelik gebruik word. Dit vervang nie enige mediese behandeling nie, en word op eie risiko gebruik.





Comments